Connect with:
Monday / December 16.
HomeFeesteMadeliefie Makietie vanjaar meer as nét ’n musiekervaring

Madeliefie Makietie vanjaar meer as nét ’n musiekervaring

Dis nie net top musiekkunstenaars wat vanjaar die groot trekpleister vir die Madeliefie Makietie, die grootste fees aan die Weskus, is nie. Dié fees, wat op Vrydag, 25 en Saterdag, 26 Oktober, op Strandfontein in die Matzikama plaasvind, spog vanjaar met ’n magdom stalletjies met iets vir elke smaak en word vir die eerste keer binnenshuis aangebied.

Van lekker eetgoed, soetgoed, wyn en ander drinkgoed tot allerlei snuisterye is beskikbaar. Vir die eerste keer word die Liefie-mark binnehuis, in die Strandfontein-saal, aangebied om plek te maak vir tuisgebak, ingelegde produkte en handgemaakte items.

Cindy Shade, feeswoordvoerder, is veral opgewonde oor die MM-klub waarmee feesgangers vanjaar eksklusiewe voordele kan geniet. Dit sluit gratis toegang na die goue sirkel, ’n wonderlike geskenksakkie, eksklusiewe parkering, afslag op feesverwante aktiwiteite en promosies, voorkeur met verblyfbesprekings, gereelde korrespondensie oor die fees, maandelikse voordele deur die jaar en boonop 20%-afslag op jou kaartjies vir vanjaar se fees, in.

Tarryn Lamb, een van Suid-Afrika se voorste vroulike kunstenaars wat harte verower het met haar treffer, Mal Oor Jou, het opgewonde vertel dat sy nie kan wag om by dié fees te wees nie.

“Ek sien so uit na die Madeliefie Makietie en om dié dorpie te beleef. Ek kan ook nie wag om almal van die streek te ontmoet nie,” het sy gesê.

Van die ander gewilde kunstenaars waarna daar uitgesien kan word, is Caroline Grace, Ricus Nel, Early B, Dennis East, Appel, Ivan Roux, Tarryn Lamb, Jay du Plessis, Bok van Blerk, Tommy Dell, Sunset Sweatshop, Dobbelsteun, Wynand en Chereè, Jan Bloukaas, Rinus Goosen, Dawid Sadie, Jaco Losgelaat, Johan Myburgh en KayCee.

Daar is boonop ’n rits opwindende aktiwiteite vir die hele gesin om te geniet op vanjaar se feesprogram wat vermaak vir die jongspan, insluit. ’n Hoogtepunt is die pretpark wat reeds op Donderdag, 24 Oktober open.

Besoek www.madeliefiemakietie.co.za vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies is te koop by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home of skakel 0861 915 8000.

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook, Twitter en Instagram.