Connect with:
Saturday / September 21.
HomeAgri-nuusMamre Inisiatief innoveer skaapbedryf in Suid-Afrika

Mamre Inisiatief innoveer skaapbedryf in Suid-Afrika

Die Mamre Inisiatief is gestig met die hoofdoel om skaapproduksie op alle vlakke te innoveer, om inligting en bestuurshulpmiddels te verskaf en om volhoubare en toenemende skaapproduksie te bevorder.

“Die doel van die Mamre Inisiatief is om die oorhoofse skaapbedryf in Suid-Afrika te bevorder deur nuwe produkte daar te stel, deur innoverende bestuurstelsels te ontwikkel en ook deur navorsing te doen oor die intensiewe stelsel,” verduidelik dr. Karin Wessels, mede-stigter van die Mamre Inisiatief.

Vanjaar is die derde jaar wat die Mamre intensiewe skaapboerdery-werksessies aangebied word. In 2019 word daar vier werksessies aangebied waarvan twee reeds plaasgevind het in Pretoria en Bloemfontein onderskeidelik met nog twee werksessies wat volg in Cedara en Bredasdorp.

Die werksessies dek alle aspekte van intensiewe skaapboerdery, waaronder voortplanting, bestuur, genetika, voeding, gesondheid en so meer.

Tydens die eerste van die vier werksessies het Hinterland met dr. Wessels gesels oor die ontstaan daarvan, hoe produsente betrokke kan raak en wat hierdie werksessies behels.

“Die werksessies is ontwikkel om die hele intensiewe stelsel op jou plaas aan te spreek. Ons het die kenners in die mark gaan nader en hulle saamgetrek om in twee dae eintlik die hele projek, vandat jy begin om jou ooie voor te berei vir sinchronisasie tot en met jy jou lammers gespeen het, deur te werk,” vertel dr. Wessels.

Landbou-ambassadeur Ivor Price het ook met Hinterland gesels oor hoe hy die eerste Mamre Inisiatief-werksessie vir 2019, wat in Pretoria aangebied is, ervaar het: “Dit was ’n besonderse voorreg om die eerste werksessie hier saam met Hinterland en die Mamre Inisiatief by te woon. Ek dink dit is ’n klomp skaapboere wat honger is vir kundigheid. Hulle wil van die jongste tegnologie, tendense en navorsing gebruik maak, nie net om hulle eie ondernemings te verbeter nie, maar ook om tot voedselsekerheid by te dra.”

Die volgende werksessies vind plaas op Cedara in KwaZulu-Natal op 23 en 24 Julie en op Bredasdorp in die Wes-Kaap op 2 en 3 September. Belangstellendes kan die Mamre Inisiatief-webwerf besoek by www.intensivesheepfarming.com en daar hul plek vir die werksessies bespreek.

Vir meer inligting oor Hinterland en hul produkte, dienste en promosies, besoek gerus hul webwerf by www.hinterland.co.za.

Jy kan ook Hinterland op Facebook (Hinterland), Twitter (Hinterland_SA), Instagram (hinterland_sa) en LinkedIn (Hinterland SA) volg om op hoogte te bly van die nuutste nuus.