Connect with:
Saturday / September 21.
HomeLeefstylManiere om jou oefenroetine te handhaaf in die winter

Maniere om jou oefenroetine te handhaaf in die winter

AiG kondig die hoofborg van 2019 aan

Met die winter wat al hoe vinnig nader beweeg, is dit moeiliker as ooit om fiks en gesond te bly. Die koue, nat en dikwels winderige weerstoestande veroorsaak gewoonlik dat jy al hoe meer tyd op die rusbank bestee en ’n bietjie van ’n sofapokkel word. Hierdie luilekker tye lei normaalweg tot gewigstoename en jou fiksheidsvlakke wat afneem. Die handhawing van ’n oefenroetine in die winter is nie net belangrik vir jou gesondheid nie, maar ook om die wintertamheid te verban.

“As die temperatuur daal, is die versoeking om meer te eet en minder te oefen altyd daar, maarhier is ’n paar nuttige wenke om fiks te bly wanneer jy die koue takel,” verduidelik Fransoa Ebersohn, handels- en kommunikasie-spesialis by Zone Fitness Clubs.

Hier is ’n paar fiksheidswenke wat jy in die winterseisoen in gedagte moet hou:

Oefen met ’n vriend

Om saam met ’n vriend te oefen, gee jou ’n aansporing om iets aktief te doen. “Om jouself te motiveer deur hierdie koue maande kan moeilik wees, so dink daaraan om saam met ’n vriend te oefen. Dit sal help om jou perspektief te verander om iets te doen wat ’n bietjie lekkerder en meer gesellig sal wees,” sê Ebersohn.

Dit is ook moeiliker om jou oefensessie te kanselleer as jy saam met iemand gaan.

Hoekom dit belangrik is

Wanneer jy uit jou warm, knus bed klim en in die koue uitgaan, kan dit moeilik wees om te onthou hoe goed jy na ’n bietjie oefening sal voel. Oefening op daardie donker koue dae sal help om jou liggaam se goeie endorfiene ’n goeie hupstoot te gee om daardie wintertamheid weg te blaas. Dit is genoeg motivering.

Wees lief vir jouself en jou liggaam

“Dit is baie moeiliker om gemotiveerd te bly wanneer jy nie genoeg tyd neem om te ontspan en te herstel nie. As jy terugkom van ’n fiksheidsessie, moet jy jouself met ’n lekker koppie warm sjokolade bederf asook ’n warm bad met badsout om moeë en seer spiere te kalmeer. Dit is ook baie belangrik om seker te maak jy kry genoeg slaap,” het Ebersohn ook bygevoeg.

Die voordele van vroegoggend-sessies

Besoek die gimnasium vroeg in die oggend in die winter. Hoe kouer dit is, hoe stiller is dit by die gimnasium eerste ding in die oggend. ’n Vroeë oefensessie het baie gesondheidsvoordele. Dit kan jou metabolisme verbeter, dit verbeter fisieke en geestelike energie en help jou ook om sterk selfdissipline te ontwikkel. As jy vroeg in die oggend ’n gimnasium besoek, kan jy ook jou fiksheidsdoelwitte vinniger bereik.

“Elke fiksheidliefhebber moet probeer om in die roetine van vroegoggend-oefensessies te kom want dit het baie voordele vir jou gesondheid,” sê Ebersohn.

Maak jou oefensessie meer pret

As dit by jou oefensessie kom, moet jy buite die boks dink – dit moet iets wees waarna jy uitsien. Gryp ’n paar vriende en gaan na ’n Coreburn-, Zumba-, Tone the Zone- of joga-klas. Alternatiewelik, gebruik jou naweek om ’n lang en energieke staptog aan te pak.

Respekteer jou roetine

Behandel jou oefenroetine met dieselfde respek as ’n dokter se afspraak. As jy jou oefentye
respekteer en niks laat inmeng nie, sal dit makliker wees om voort te gaan en jou fiksheidsdoelwitte te bereik. As jy dink jy het nie die dissipline nie, sluit aan by ’n oefengroep! Oefengroepe is goed aangesien julle mekaar kan motiveer en nie mekaar in die steek sal laat deur nie op te daag nie.

Drink baie vloeistowwe in die winter

Hidrasie is net so belangrik in die winter as in die somer. Jy moet altyd onthou om water voor, tydens en na jou oefensessie te drink, al is jy nie dors nie.

Maak slim koskeuses gedurende die winter

Probeer om gesond te eet in die winter. Diëte met beperkte kalorieë, kan streshormone verhoog wat eintlik gewigstoename kan veroorsaak. Gaan vir veselryke volgraan en bone, asook goeie vette. Om slim koskeuses te maak is ’n belangrike deel van die handhawing van goeie gesondheid en dit kan jou help om elke dag jou beste te gee.

Wees aktief die meeste dae van die week

Om deurlopend aktief te wees, kan langtermynvoordele hê en gereelde oefening kan jou lewensgehalte verbeter. Die voordele van gereelde oefening kan die risiko van ’n hartaanval verminder. Jy kan ook jou gewig beter bestuur en die risiko van tipe 2-diabetes verminder. Navorsing toon dat gereelde fisieke aktiwiteite jou sielkundige welstand kan bevorder en gevoelens van ligte tot matige depressie en angs verminder. Op ’n dag wat jy ’n bietjie moeg, benoud of bekommerd voel, oorweeg dit om ’n vinnige stappie te neem – dit sal jou help. Die tyd om beter, sterker en gesonder te word, is nou. Maak fiksheid ’n gewoonte en besoek jou naaste Zone Fitness-klub.