Connect with:
Tuesday / June 2.
HomeInnoveerderMarnus Broodryk slaan nog ’n bal uit die park

Marnus Broodryk slaan nog ’n bal uit die park

Die naam Marnus Broodryk het feitlik geen inleiding nodig nie en is sinoniem met die woord entrepreneur.

Marnus het grotendeels bekendheid verwerf onder Suid Afrikaners op die program, Shark Tank, wat op M-Net DStv-kanaal 101, uitgesaai is. Sy boek, 90 Rules For Entrepreneurs, word hierdie Woensdag, 1 November, uitgereik.

Marnus is ook ’n self-made miljoenêr met sy besigheid, The Beancounter Financial Services, wat hy besit en bestuur.

Marnus sien homself egter nie as ’n ‘entrepreneur’ nie en sê dat die term nog steeds vir hom vreemd klink. “Ek wou nog altyd net ’n besigheid hê om sodoende mense te help,” sê Marnus.

Wanneer daar gepraat word oor Shark Tank en wat dit vir Marnus en sy besigheid beteken, sê hy: “Die hoeveelheid geloofwaardigheid wat so ’n spitstyd televisie-program bied, is prysloos. Mens bereik soveel mense op een slag.”

So wat het Marnus laat besluit om ’n boek uit reik? “Juis Shark Tank. Ná die program was daar soveel entrepreneurs wat my gekontak het en om hulp gevra het en baie keer is baie daarvan dieselfde basiese vrae. Ek het gedink die boek sal ’n goeie idee wees om meer mense te kan help en bereik,” sê Marnus.

Dit is ook baie duidelik dat Marnus sterk glo in entrepreneurswese en sy ondersteuning op sosiale netwerke is vir hom belangrik. Hy vra gereeld vrae en deel ook baie raad en motiveer aanhangers met frases soos “Let’s make it happen hustlers”.

Aangenaam en plat op die aarde, mens wonder hoe kry hy dit reg om op koers se bly met sy besige skedule? “Dit is vir my belangrik om gelukkig te wees en gebalanseerd te lewe,” sê Marnus.

Marnus droom steeds groot en beplan om nog besighede op die been te bring, maar vir eers fokus hy op sy boek.

’n Mens wonder altyd hoe iemand soos Marnus by die huis is agter toe deure en hy antwoord skaam, “Ek is maar nog steeds net ’n entrepreneur wat nie kan afskakel nie. Ek dink altyd aan wat volgende is, maar probeer darem elke aand teen tienuur in die bed wees.”

Uit en uit ’n besigheidsbrein, is dit glad nie moeilik om te sien hoekom Marnus so suksesvol is nie.

Maak seker jy kry jóú kopie van Marnus se boek, 90 Rules For Entrepreneurs, die oomblik wat dit die rakke tref!