Connect with:
Sunday / August 25.
HomeArtikelsMichael Fullard dans en sing die wêreld vol

Michael Fullard dans en sing die wêreld vol

Die talentvolle Michael Fullard van Pretoria en voormalige student aan die Oaksfield College vorm deel van die groep kunstenaars wat onlangs op ’n internasionale toer was met die bekende musiekblyspel Chicago.

Hy het met Ydah Bester van www.sterre.co.za gesels oor sy ervaring in die kunstebedryf, hoe sy liefde hiervoor begin het en wat vir hom voorlê in die toekoms.

Hoe het jou liefde vir en loopbaan in uitvoerende kunste begin?

“My liefde vir die kunste het begin toe ek nog klein was. Ek het op die ouderdom van 12 begin dans, en toe nooit opgehou nie. My liefde vir uitvoerende kunste het saam met my gegroei. Ek het Musical Theatre by Oakfields College gaan swot. My loopbaan in die uitvoerende kunste het daar begin, waar ek so baie geleer het wat my gehelp het om my te bring waar ek vandag is.”

 

Het jy al voorheen aan produksies soos Chicago deelgeneem? Indien ja, watter produksies?

“Ja ek het! Ek het al aan verskeie ander produksies deelgeneem. Sneeuwitjie, Annie, Priscilla Queen of the Desert en West Side Story is almal produksies waarin ek verskyn het. Ek het elkeen van hulle net meer as die vorige een geniet. Ek is een van daardie gelukkige mense wat absoluut mal is oor wat hulle doen.”

Wat is jou gunsteling produksie en hoekom?

“Die gunsteling produksie wat ek al gedoen het, is definitief West Side Story. Hierdie musiekblyspel gaan oor die wedywering tussen die Jets en Sharks – twee tienerbendes van verskillende agtergronde. Ek het ook die voorreg gehad om een van my droomkarakters, Baby John, te speel. Baby John die nuutste lid van die Jets-bende, en ook die jongste – daarom die naam Baby John.”

Wat was jou ervaring van die internasionale Chicago-toer en wat lê vir jou voor na dit?

“My ervaring van hierdie internasionale toer was absoluut ongelooflik. Ek het die wêreld gesien wat ek nooit gedink het ek sou kon doen nie, terwyl ek doen waarvoor ek lief is. Dit was werklik ’n droom wat waar geword het – mens kan nie vir meer vra nie! Na Chicago gaan ek net nog oudisies doen en kyk wat my loopbaan vir my inhou. Ek probeer altyd om vorentoe te beweeg, om elke keer iets groter en meer uitdagend aan te pak.”

Instagram: michael_c94

Facebook: Michael Fullard