Connect with:
Friday / April 19.
HomeAkteur/AktriseMila Guy: Die vreeslose dromer

Mila Guy: Die vreeslose dromer

Mila Guy, bekend as Melanie in die kykNET-mokumentêr, Hotel, het grootgeword in Nelspruit en Nieu-Seeland. Sy beskryf haarself as die tipiese girl next door: wat jy sien, is wat jy kry. Sy is plat op die aarde en lief vir die lewe en die mense na aan haar hart.

Dié aktrise wou ’n sangeres word, maar haar pa het haar altyd aangemoedig om ’n storie te vertel as sy sing. Sy het drama op skool geneem en graag aan Eisteddfods deelgeneem. “Ek dink ek is met dié gogga gebore en gelukkig is my familie lief vir die kunste, so ek kon myself lekker uitleef,” vertel sy.

LEES OOK: Zak Hendrikz ’n man met vele talente

Mila sê daar is nie veel ooreenkomste tussen haar en Melanie, die karakter wat sy in Hotel vertolk, nie. Sy hou daarvan om uit haar maag te lag en die gek met iemand te skeer, terwyl haar karakter ’n droë sin vir humor het. Een liefde wat hulle wel deel, is vir lees. “Nee wat, Melanie is uniek. Ek dink nie daar is baie soos sy nie. Sy is baie meer sorgeloos en niks pla haar sommer nie,” skerts sy.

Binnekort kan fliekvlooie haar op die silwerdoek, in Liewe Kersfeesvader, sien. Sy vertolk die rol van Nonnie en sê dat die fliek haar baie na aan die hart lê. Dis haar heel eerste speelfilm. “Ons het in die pragtige Karoo geskiet en dit was ’n absolute droom,” sê sy.

Die res van die rolverdeling sluit Milan Murray en Morné Visser in. “Liewe Kersfeesvader is ’n fliek wat mense gelukkig gaan maak,” sê Mila.

Sy wil graag eendag ’n rol in ’n TV-drama vertolk, waarin sy haar ernstige kant kan wys. Sy wil ook haar eie kort film skryf en die regie daarvan behartig, maar vir nou is sy tevrede om haar drome na te streef. “Ek sal ook eendag saam met Karen Zoid wil sing op haar TV-reeks, Die Republiek van Zoid Afrika.”

LEES OOK: Liewe Kersfeesvader binnekort op die silwerdoek

Rolanda Marais is haar plaaslike rolmodel en internasionaal Meryl Streep of Emmy Rossum. Vra jy haar saam met wie sy nog wil werk, antwoord sy: “Rolanda Marais. Sy speel hierdie diverse karakters en sy het vermoë om diep in die karakters se skoene te klim.”

As sy een ding van die aarde kon wegvat sal dit materialisme wees. “Dis die wortel van baie kwaad. Geld en besittings word so belangrik dat mense se lewens ’n bysaak word. Mense word objekte waarmee gespeel word om geld te maak.”