Connect with:
Friday / July 19.
HomeInnoveerderMnr. SA meer as net spiere en mooi gesig

Mnr. SA meer as net spiere en mooi gesig

Nederigheid, sy sterk geloof en sy passie vir kinders en minderbevoorregtes maak die aantreklike Heinrich Gabler, Mnr. Suid Afrika 2019, is nie net ’n wenner vanweë sy gespierde lyf en innemende glimlag nie, maar ook ’n gunsteling as dit by persoonlikheid en karakter kom.

Dié 28-jarige onderwyser van Wellington is op Saterdag, 8 Junie tydens ’n glansryke geleentheid by die Bay Hotel in Kampsbaai gekroon.

Die span van Sterre het met hom gesels met meer oor hom uitgevind, hoe hy ander wil help en die belangrike lewenslesse wat hy oor die jare geleer het.  

Baie geluk met jou Mnr. Suid-Afrika-titel! Wat sou jy sê is een van jou sterkste eienskappe en hoe het dit jou gehelp deur die kompetisie?

My sterkste eienskap is verseker my nederigheid. Dit is iets waaroor ek altyd gekomplimenteer word en mense besef hulle kan altyd hulself wees rondom my.

Is daar enige spesifieke persoon wat jou aangemoedig het om deel te neem aan Mnr. Suid-Afrika?

Dieter Voigt, Mnr. Suid-Afrika 2007, het my op ’n jong ouderdom gemotiveer en geïnspireer om ook ’n Mnr. Suid-Afrika te word. Hy het potensiaal in my gesien en my aangemoedig om daaraan deel te neem.

Op die ouderdom van nege het jou lewe drasties verander toe jy beide jou ouers verloor het. Vertel ons watter impak dit op jou lewe gehad het?

Dit het my hele perspektief en uitkyk op die lewe verander. Ek het gewonder of daar ooit ’n toekoms is vir my. Dit het my bewus gemaak dat daar ander mense is wat selfs deur nog erger dinge as ek gegaan het. Dit het gelei tot my omgee hart vir minderbevoorregtes.

Wat is die belangrike lewenslesse wat jy by die kinderhuis geleer het en hoe sal jy dit met ander wil deel?

Ek het geleer dat jou verlede nie jou toekoms bepaal nie en dat jy altyd bo jou omstandighede kan uitstyg. Ek wil daardie voorbeeld uitleef sodat ander dit kan besef.

Jy wou eers ’n professionele rugbyloopbaan begin het, maar het toe besluit om onderwys te studeer en om met kinders te werk. Wat het jou van plan laat verander?

Dit was maar net die Here se wil vir my lewe en ek moes gehoorsaam wees. Ná my eerste rugby-oefensessie as student by Laerskool Hugenote het ek besef daar is niks anders wat ek wil doen as om met kinders te werk nie.

Stel jou voor dat jy vir ’n week as president van Suid-Afrika gekies is. Wat beplan jy om binne net ’n week vir die land te doen?

Ek sal toegeruste sportsentrums in minderbevoorregte gemeenskappe oprig. Ek glo dat sport die mag het om ’n nasie te verander. Verder sal ek meer onderwysbeurse beskikbaar maak, want kinders se opvoeding en die gehalte daarvan is noodsaaklik.

Wie is jou gunsteling ster? As jy ’n kans kry om jou gunsteling ster te ontmoet, waar sal jy hom of haar neem en wat sal jy graag van die persoon wil weet?

Juan de Jongh, Suid-Afrikaanse rugbyunie rugbyspeler.Ek het die voorreg om hom persoonlik te ken en sy vriendskap beteken baie vir my. Ek sal graag vir Bryan Habana vir ’n braai wil nooi en oor algemene dinge wil gesels.

Wie is die mees inspirerende persone in jou lewe en hoe inspireer hulle jou?

Larry Gabler, my oudste broer. Was nog altyd ’n inspirasie vir my. Sy dryfkrag en besigheidskop is iets waarna ek opkyk. Pieter Visser wat soos ’n pa is vir my inspireer my daagliks. Hy is ’n familie-man en ’n ongelooflike besigheidsman.

Is jy betrokke by enige liefdadigheidsorganisasie? Indien wel, hoekom hierdie organisasie?

Ek is betrokke by Huis Andrew Murray, die kinderhuis op Wellington. Omdat ek ’n groot deel van my lewe daar deurgebring het, en dit so baie vir my beteken het sal ek altyd daar probeer terugploeg.

As jy die kans gehad het om terug te gaan na jou verlede en iets te verander, wat is die een ding wat jy sou wou verander?

Daar is eerlikwaar niks wat ek sal verander nie. Alles waardeur ek is het my die persoon gemaak wat ek vandag is. Alles gebeur vir ’n spesifieke rede.

Met die titel van Mnr. Suid-Afrika, is daar iets spesifiek wat jy beplan om ander te help in jou jaar of om ’n daadwerklike verskil te maak?

My droom is om ’n nie-winsgewende organisasie te stig wat minderbevoorregte kinders van sporttoerusting voorsien. Ek sal graag met die ontmoeting van hierdie kinders ’n afrigtings- en motiveringsessie wil aanbied.

Is daar tyd vir liefde in jou lewe?

Ja daar is. Mens moet altyd tyd maak vir belangrike mense in jou lewe.

 

Fotograaf: Dionne Jordaan Photography