Connect with:
Tuesday / November 19.
HomeEventsMoederstad kan gereed maak vir Afrikaans is Groot

Moederstad kan gereed maak vir Afrikaans is Groot

Vroeër vanjaar se Afrikaans is Groot-konserte in Kaapstad was groter as ooit met ’n rekordgetal konsertgangers wat die vertonings bygewoon het. Uiteindelik is dit binnerkort weer die Moederstad se beurt om die grootste samekoms van Afrikaans in Kaapstad te verwelkom en in volle glorie te ervaar.

Met van die land se grootste kunstenaars soos Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Riana Nel,  Karlien van Jaarsveld, Elvis Blue, Demi Lee Moore, Ricus Nel, Snotkop, Jay, Corlea, Tarryn Lamb, Dewald Wasserfall, en Ruhan du Toit kan Kapenaars solank uitsien na musiekgenot vanuit die boonste rakke. 

Karen Zoid en Laurika Rauch is ook vanjaar weer terug en die Vuur Op Die Water-sensasie, Elandré, maak vir die eerste keer sy buiging op dié gesogte verhoog. Daar wag ook ’n paar groot verrassings op gehore.

“Ons is hard aan die werk om ’n produksie van internasionale gehalte aan gehore te bied en die verskeidenheid van kunstenaars dra by tot ’n konsert wat gehore op die punte van hul stoele gaan hou,” het Barry Pretorius, regisseur van dié konsertreeks, gesê.

Bok van Blerk, wat sedert die begin deel van die konserte is sien veral uit na Kaapstad. “Die Kaap se gehoor is altyd vreeslik lekker en ek kan nie wag om Kaap toe te kom nie! Kaapstad, maak seker ek sien jou daar!,” het hy aan Maroela Media gesê.

Ook Steve Hofmeyr, wat onlangs besluit om terug te staan en nie deel van dié konserte te wees nie sodat dit wel in 2020 in Kaapstad kan plaasvind, het vertel hoe belangrik dié konsertreeks is. Volgens hom het hy besef dat Sun International nie dié konserte in hul lokaal gaan toelaat as hy nie dié besluit geneem het nie. “Ek doen dit in belang van my mede kollegas en ons groot produksiespan,” het hy gesê. 

Die kunstenaars is egter reg om konsertgangers te bederf met ’n konsert wat nié gou vergeet sal word nie. Afrikaans is Groot 2020 vind op Saterdag, 21 Maart, om 13 en 19:30 en Sondag, 22 Maart om 13:00 by die Grand West in Kaapstad, plaas. 

Kaartjies is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.