Connect with:
Saturday / December 7.
HomeArtikelsMorné van der Sandt se nuwe album binnekort op die rakke

Morné van der Sandt se nuwe album binnekort op die rakke

Morné van der Sandt se liefde vir musiek het al kleintyd begin toe sy pa om die braaivuur kitaar gespeel het. Vandag het hy al talle van sy eie treffers uitgebring en vir homself groot naam gemaak in die musiekbedryf. Sy nuwe album sien ook amper die lig en jy sal dit een van die dae op die rakke, asook ander digitale platforms kan kry.

Jeanne-Mari van Eeden van www.sterre.co.za het met hom gesels.

Waar het jou liefde vir musiek begin? Wat sou jy sê was jou deurbraak?

“Musiek was altyd ’n groot deel van ons huis terwyl ek grootgeword het, my pa speel ongelooflik goed kitaar (vandat hy 17 is en dis nou al ’n goeie 45 jaar later) en dit was maar altyd vir ons ’n gedoente om bietjie te sing en musiek te speel by die braai. Dit het so half die liefde daarvan aan die brand gekry. Ek sou sê my deurbraak was met my heel eerste album, Hier’s ek nou. Die eerste liedjie wat vrygestel was, was Heeltyd Speeltyd, mense het grootliks aanklank by die ‘party vibe’ gekry wat ek doen en alles het daar begin.”

Met watter projekte is jy tans besig?

“Tans is ons in die proses om my nuwe album af te handel. Daar was hier en daar klein werkies en dingetjies wat ek wou beter maak en verander en ek kan uiteindelik sê, ek is klaar. 😂”

Wat is jou gunsteling aspek van die bedryf?

“Vir my is dit dié lekkerste om nuwe mense te ontmoet. Ek geniet dit verskriklik om sosiaal te verkeer en hou van mense. Musiek is nogals ’n oop deur daarvoor.”

Saam met watter kunstenaars sal jy graag nog wil werk?

“Ek het al die voorreg gehad om met ongelooflike name in die bedryf te werk. As dit kom by my persoonlike keuse sal dit ’n droom wees om iets saam Juanita du Plessis op te kan neem. Sy bly maar ’n groot gunsteling.”

Watter fees waar jy al opgetree het is jou gunsteling en hoekom?

“Ek kan só baie noem en wil geeneen uitsonder nie, maar die KKNK en Aardklop bly die lekkerste. Natuurlik ook enigiets wat in die hart van die Bosveld gebeur.”

Wat is jou grootste inspirasie as dit kom by liedjies skryf?

“Dis altyd ’n lekker iets om oor te lag, maar ek vind beslis ek skryf die beste wanneer die liefde nie altyd so lekker werk nie. En dan is dit natuurlik ’n danstreffer of twee ook.”

Wat doen jy graag in jou aftyd?

“Ek geniet dit verskriklik om saam met familie en vriende te kuier! Wegbreek oor naweke is net só lekker, die Bosveld, vakansie-oorde. Solank ons om ’n vuur kan sit en kuier en die tyd saam koester, is ek gelukkig… ’n goeie rusdag nou en dan doen ook goed.”

Wat maak jou opgewonde en wat maak jou bekommerd as dit kom by die vermaaklikheidsbedryf?

“Ek’s altyd opgewonde oor nuwe produkte wat vrygestel word. Dis lekker om ander se talent te hoor. Ek raak nie gou bekommerd nie, ek fokus maar op wat goed is vir my en wat ek geniet om te doen.”

Wat is op jou ‘bucket list’?

“Ek MOET een of ander tyd gaan duik en ek wil verseker ’n goeie stap en kamproete doen, net omdat ek soms so lui is en ’n punt aan myself wil bewys.😁”

Watter raad sou jy aan jou jonger self gee?

“Wees altyd trots en lief vir jouself, moenie kritiseer nie, wees vriendelik, glimlag en geniet die lewe. Dit is soms so kort! Hoe meer jy smile, hoe lekkerder voel jou hart en NS: Gee gereeld drukkies, mense kan doen met dit.”

_______________________________________

Facebook – mornevdsandtpage

Instagram – mornevdsandt