Connect with:
Tuesday / June 2.
HomeTeaterNataniël: 30 Years, 90 Minutes nou in Bloemfontein

Nataniël: 30 Years, 90 Minutes nou in Bloemfontein

Aanhangers kan uitsien na Nataniël se splinternuwe verhoogproduksie – 30 Years, 90 Minutes, wat vandeesweek in Bloemfontein begin.  

Nataniël is baie opgewonde om sy 3 dekades in die vermaakbedryf te vier met sy nuwe verhoogstuk, maar sê dat dit glad nie ’n herdenking is nie, hy lewe nog en kan dus nog self mense bederf!

Hierdie is die grootste verhoogstuk wat Nataniël nog op die planke bring met ’n hele stel, musikante, agtergrondsangers en ’n kas vol flambojante gewade.

Ironies genoeg, sê Nataniël dat hy dit eintlik háát om te skryf. “Dit voel soos huiswerk. Maar dis lekker as die storie eers daar is om te vertel.”

Nataniël sê dat hy lank loop met die materiaal in sy kop totdat dit op ’n dag “uitklim” en hy aan die werk spring.

30 Years, 90 minutes, is ’n epiese verhoogstuk met 50% nuwe werk en die res is ’n mengsel van ou werk wat nog nooit gehoor is nie en van sy grootste treffers.

Nataniël sien homself nie as ’n storieverteller nie, maar eerstens as ’n musikant. Hy het net per ongeluk in die “sirkus” beland wat sy musiekspel oorrompel.

Hy droom daarvan om eendag net te sing; “As ek eendag verdwyn, is dit omdat ek in Europa is waar ek net sing en nie ’n woord hoef te praat nie.”

Maar eers geniet hy sy 30 suksesvolle jare in die bedryf en sien uit daarna om gehore in Bloemfontein te bekoor met sy nuutste meesterstuk op 26, 27 en 28 Oktober om 19:30 in die Sand du Plessisteater.