Connect with:
Friday / July 19.
HomeLeefstylNet soos die veldblomme, blom die Clanwilliam Veldblomskou ook

Net soos die veldblomme, blom die Clanwilliam Veldblomskou ook

Elke jaar tydens Namakwaland se blomseisoen verander die streek in ’n asemrowende skouspel van kleurvolle veldblomme. Hierdie tyd van die jaar is ’n trekpleister vir duisende toeriste regoor Suid-Afrika en die wêreld. As jy ’n van plan is om die blommeland tydens vanjaar se blomseisoen te besoek, maak ’n draai by die Clanwilliam Veldblomskou van Vrydag, 23 Augustus tot Sondag, 1 September.

Die veld rondom Clanwilliam is besig om te ontwaak ná ’n lang droë tydperk en ’n groen tapyt van plantegroei bedek die landskap. Ná die onlangse reënval beloof vanjaar se skou om een van die mooistes nóg te wees. Die skoukomitee gebruik die treffende natuurskoon as inspirasie en verander die Blomkerk op Clanwilliam in ’n skouspelagtige uitstalling van blomme en plante.

Die skou se oogmerk is om bedreigde spesies te bewaar en om klem te plaas op die beskerming van die inheemse plant- en blomspesies in die streek. Die komitee wil besoekers bewus maak van die verskeie spesies wat tans op die SANBI Rooilys is en wat gedoen kan word om die spesies te red voor hulle uitgewis word. 

Die blomseisoen is om die draai en verskeie blomme is reeds in die area rondom Clanwilliam gewaar. Die veld is bedek met Surings – altyd ’n teken dat ’n goeie blomseisoen voorlê. Protea Repens is ook gesien in die Uitkykpas naby Clanwilliam. Na raming word daar minstens 360 blomspesies in die Cederberge gevind.

“Ons is hard aan die werk hier die Blomkerk in Clanwilliam. Ons het reeds strukture begin bou, plante geplant en is besig om hulle te versorg. Ons verseker dat elke besoeker aan die skou die mooiste en mees kleurvolle blomme en plante sal sien,” sê Alida Stone van die skoukomitee.

Die Clanwilliam Veldblomskou dien as vertoonvenster van dít wat Namakwaland en die Cederberg-streek spesiaal maak. Besoek die Clanwilliam Veldblomskou van Vrydag, 23 Augustus tot Sondag, 1 September.

Bly op hoogte met die nuutste Clanwilliam Veldblomskou-nuus op Facebook (ClanwilliamWildflowerFestival), Twitter (Wildflowershow) en Instagram (clanwilliamflowershow). Besoek ook hulle webtuiste by www.clanwilliamwildflowershow.co.za om meer te lees oor die geleentheid.