Connect with:
Tuesday / December 10.
HomeKolligNicholis Louw stel hoendervleismooi weergawe van World In Union vry FT. Liezel Pieters!

Nicholis Louw stel hoendervleismooi weergawe van World In Union vry FT. Liezel Pieters!

Daar is min dinge wat ’n land kan saamtrek soos sport en goeie musiek. Met die Rugbywêreldbeker wat binnekort afskop, is dit dus net gepas om hierdie geskiedkundige gebeurtenis te ondersteun met ’n liedjie wat sinoniem geword het met oorwinning en versoening.

Die bekroonde en veelsydige superster, Nicholis Louw, en die uiters begaafde en talentvolle sangeres, Liezel Pieters, het pas ’n hartroerende weergawe van die 1995 PJ Powers en Lady Smith Black Mambazo-treffer, WORLD IN UNION (voorheen deur Kiri Te Kanawa), vrygestel wat nie net beloof om luisteraars se asems weg te slaan nie, maar ook ou nostalgiese gevoelens van passie en gemeensaamheid sal laat seëvier.

WORLD IN UNION is een van daardie groot, legendariese liedjies wat ek nog altyd wou sing. Vanjaar se Rugbywêreldbekertoernooi het die perfekte geleentheid gebied om dit te doen en ek hoop dat hierdie weergawe die publiek diep sal tref,” verduidelik Louw oor sy besluit om hierdie snit op te neem. “Liezel Pieters is een van die min vroulike sangers wat hierdie lied regtig kan sing. Ek dink sy is een van die beste opkomende kunstenaars in die land en dat daar ’n baie blink toekoms vir haar voorlê in die musiekbedryf.”

Volgens die sanger is WORLD IN UNION; waarvan die lirieke deur Charlie Skarbek geskryf is op die wysie van die middelste gedeelte van Jupiter, the Bringer of Jollity deur Gustav Holst se The Planets; reeds ’n baie gewilde snit regoor die wêreld en daarom glo hy dat dit baie goed ontvang sal word.

Meer as sestien jaar in die musiekbedryf, verskeie musiektoekennings en -benoemings, heelwat nommer een treffers op die radio en talle albums met multi-platinumverkope, het van Nicholis Louw ’n huishoudelike naam gemaak en vir hom ’n permanente plek in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf gevestig.

Die kunstenaar wat bekend is vir sy energieke verhoogpersoonlikheid en hoogsvermaaklike optredes, het in 2003 sy debuut in die musiekbedryf gemaak met sy eerste album My Hart Is Aan Die Brand wat uitsonderlik goed ontvang is. Dit is gevolg deur agt baie suksesvolle vrystellings – Rock Daai Lyfie (2005), Hier Naby Jou (2007), Vergeet en Vergewe (2008), Elvis On My Mind (2008), Energie (2009), Ek Is Daar Vir Jou (2011), Gebed Van ’n Sondaar (2012) en So Rock Ons Die Wêreld Reg (2014) – wat onder meer goue-, platinum-, dubbel-platinum-, en trippel-platinum-verkoopstatus behaal het. Van sy grootste treffers sluit in Ek wil my baby hê vanaand, Rock Daai Lyfie, Generaal, en vele meer.

Omdat hy tagtig tot negentig vertonings per jaar doen, is dié veelsydige musikant konstant besig om nuwe elemente tot sy repertoire, wat reeds rock, pop, country en groot ballades insluit, te voeg en kry hy dit reg om sy voorliefde vir opera- en klassieke musiek soomloos in sy optredes te verweef en sodoende sy musiek in ’n klas van hulle eie plaas.

Liezel Pieters word beskryf as die Laura Branigan van Afrikaanse musiek en was vir baie jare deel van die Barnyard se musiekgeselskap. Haar sterk stem, het in 2014 vir haar ’n plek losgeslaan in die Krone 2-musiekuitvoering wat vir haar heelwat deure in die bedryf oopgemaak het. Sing My Hart Uit, haar debuut-album, is in 2017 uitgereik en het verskeie suksesvolle enkelsnitte opgelewer, waaronder Asemloos en Droë Riviere, waarvan die musiekvideo deur meer as ’n miljoen kykers op YouTube gesien is. In Ons Bloed, haar nuutste treffer is in Maart vanjaar vrygestel.

Nicholis Louw en Liezel Pieters se stemme vul mekaar hoendervleismooi aan in hierdie unieke emosieblaaide weergawe van WORLD IN UNION. Die lied is ’n merkwaardige huldeblyk aan ’n sportsoort met ’n ryk kultuur en tradisie nie en sal luisteraars ook daaraan herinner om saam te staan in ’n wêreld waar situasies soms hopeloos lyk. Dit is beslis die perfekte manier om die 2019 Rugbywêreldtoernooi op ’n hoë noot te begin en ’n moet-hê-snit vir elke rugbykuier se musieklys.

Die lied sal binnekort op alle digitale platforms beskikbaar wees.