Connect with:
Saturday / September 21.
HomeKolligNog kunstenaars én ekstra kaartjies, want Afrikaans ís Groot

Nog kunstenaars én ekstra kaartjies, want Afrikaans ís Groot

Met agt konserte reeds uitverkoop het Afrikaans is Groot pas ekstra kaartjies vir die vertoning op Donderdag, 28 November, beskikbaar gestel. Nog nuus is dat die legendariese Laurika Rauch en immergewilde Elandré nou ook saam met die land se voorste kunstenaars op die verhoog sal wees. 

“Dis met groot waardering en dankbaarheid teenoor ons lojale ondersteuners en gehoor, wat ook ons borge geraak het, dat ons daarin kon slaag om uitnemende kaartjie-verkope te kon behaal. Ons vier dit met die twee bykomende kunstenaars, Laurika Rauch en Elandré, wat vanjaar deel word van dié gesogte produksie,” het Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur gesê.

Ná talle versoeke van die publiek het die organiseerders besluit om ekstra kaartjies vir die vertoning op Donderdag, 28 November, beskikbaar te stel – ’n heel laaste kans om nog kaartjies vir vanjaar se Afrikaans is Groot-konsertreeks te bekom. As deel van dié veldtog is hierdie ekstra kaartjies op Woensdag, 28 Augustus, teen ’n spesiale afslag-tarief op Computicket beskikbaar. Voornemende kaartjiekopers sal dié afslag nét op Woensdag, 28 Augustus, tussen 09:00 en 17:00, vir die konsert op Donderdag 28 November 2019, ontvang.  

“Ons verwag dat hierdie ekstra kaartjies net so vinnig sal verkoop soos die res van die konserte, so konsertgangers sal moet spring,” het Pretorius konsertgangers aangemoedig.

Laurika vier vanjaar haar veertigste jaar in die bedryf en sal die Afrikaans is Groot-gehoor meevoer met haar liedjies wat diep in mense se harte gewortel is. Elandré, wie se naam vanjaar op almal se lippe was met sy uitskiettreffer, Vuur Op Die Water, het ook sy plek op die gesogte verhoog verdien en daar word uitgesien om hom vir die eerste keer by dié konsert te verwelkom. 

“Afrikaans is Groot is bekend daarvoor dat konsertgangers elke jaar net die beste ervaar deur die kunstenaars, verhoog, ligte en orkes. Spesiale verrassings soos kunstenaars wat vlieg oor konsertgangers en ’n helikopter op die verhoog dra by tot die magiese effek van hierdie reuse Afrikaanse musiekgeleentheid. Vanjaar bied ons dié konsert aan met harte wat wil bars van trots, en ons beplan baie spesiale oomblikke om elkeen van ons konsertgangers die ervaring te bied wat hulle verdien,” het Pretorius gesê.  

Suid-Afrika se grootste kunstenaars soos Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Jay, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Corlea, Karlien van Jaarsveld, Riana Nel, Elvis Blue, Tarryn Lamb, Demi Lee Moore, Dewald Wasserfall, Ricus Nel, Snotkop en Ruhan du Toit is weer by Afrikaans is groot. Karen Zoid is ook vanjaar weer terug en oudergewoonte sal daar ook ’n paar verrassings wees waarna gehore kan uitsien.

Ondersteuners wat kaartjies vir die jóúAIG-konsert gekoop het, het dié konserte moontlik gemaak en is vanjaar die hoofborg. Hulle kan uitsien na ’n spesiale bederf. 

Afrikaans is Groot 2019 vind op 22 November om 19:30, 23 November om 13:00 en 19:30, 24 November om 13:00, 28 November om 19:30, 29 November om 19:30, 30 November om 13:00 en 19:30 en 1 Desember om 13:00, by die Sun Arena by Time Square in Pretoria, plaas. 

Kaartjies is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.