Connect with:
Friday / November 22.
HomeKolligNuweling Dihan Schoeman opgewonde oor Binnelanders-rol

Nuweling Dihan Schoeman opgewonde oor Binnelanders-rol

Jacques Olivier is ’n nuwe karakter wat binnekort op die kykNET sepie Binnelanders op die kassie gaan verskyn.  

Rudi Fett van www.sterre.co.za het met Dihan Schoeman, wat die rol van Jacques vertolk, gesels. “Jacques is openlik gay, so dis vir my ’n ongelooflike voorreg om deel te wees van sy verhaal, en ek is opgewonde om hierdie storie te vertel.

“Van kleins af het ek die regte leiding van my ma, wat my hele lewe lank nog sang- en dramaklasse aangebied het, gekry en so het ek ’n passie vir televisie en teater ontwikkel,” het Dihan gesê.

Wanneer het jy jou passie vir drama ontdek? Was dit nog altyd jou droom om in films of in ’n sepie te kan speel?

“Met my ma se drama- en sangklasse was ek nog altyd blootgestel aan die kunste, so ek kon skaars behoorlik praat toe het ek al begin deelneem aan kunstefeeste. Drama was nog altyd deel van my wese.

“Ek spot graag dat ek eerder in ’n akademiese rigting wou gaan, en dat my ouers my gedwing het om drama te volg, maar dis glad nie waar nie. Ek deel my liefde vir film en TV ook met die teater, onlangs veral in die Afrikaanse bedryf. Daar is ongelooflike dinge besig om te gebeur op ons skerms en op die planke, en ek is so opgewonde om deel te kan wees van hierdie nuwe era van Afrikaanse vermaak.”

Wie is die persoon wat jou die meeste inspireer?

“Ek is tans baie opgewonde om te sien wat vir boer Damian voorlê op Boer Soek ’n Vrou. Hy maak nou ’n groot verskil vir Afrikaners wat deel is van die LGBT-gemeenskap. Nog een van my groot rolmodelle was ook nog altyd Katy Perry. Toe sy hier was met haar toer in 2018, het sy my verhoog toe geroep uit duisendes en gesê sy glo in my. Kom ons hoop ek maak haar eendag trots,” sê Dihan.

Met watter projekte is jy tans besig en wat hou die toekoms vir jou in?

“Ek speel tans Jacques in Binnelanders wat in matriek is, en beste vriende is met Trudie Ferreira, gespeel deur die ongelooflike Daniah de Villiers. Ek is ook hard aan die werk met musiek – as ek nie ’n cover vir sosiale media maak nie, is ek besig om musiek te skryf. Dihan die sanger is weer ’n ander weergawe van my, so ek is opgewonde om hom aan julle voor te stel.”

Wat is jou inspirasie om musiek te maak?

Musiek is vir my ’n taal, so wanneer ek skryf, vind ek ’n manier om te sê wat normale woorde nie kan nie. Ek sing nog my hele lewe lank, en dis een van my gunsteling dinge om te doen. Ek skryf vanuit verskillende perspektiewe, so ek vertel altyd ’n storie. Partykeer is dit my stories, partykeer iemand anders s’n. Maar die woorde kom altyd uit my hart.

Hou gerus Dihan se sosiale media dop om ingelig te bly oor sy blink toekoms.

FB – www.facebook.com/dihanschoemanartist

Instagram – @dihan0709