Connect with:
Saturday / September 21.
HomeMusiekRiana Nel se nuwe album skiet ‘Die Hemel’ in

Riana Nel se nuwe album skiet ‘Die Hemel’ in

Die topverkoper sangeres en liedjieskrywer, Riana Nel, se splinternuwe album, Sterker, het sedert Vrydagmiddag se amptelike bekendstelling by die Innibos Laeveld Kunstefees die nommer een posisie in musiekwinkels landwyd ingeneem.

Riana se vorige album, Jy Sal Weet, is in 2017 uitgereik en met Sterker se verkope is dit ’n duidelike aanduiding daarop dat aanhangers nie meer kon wag op haar nuwe liedjies nie.  

Die enkelsnit, Hou Die Hemel Oop, wat by dié album ingesluit is, kon reeds die afgelope maand op radiogolwe gehoor word en aanhangers is in vervoering met die storie agter hierdie liedjie wat ’n emosievolle Riana in ’n video op haar sosiale media vertel het.

 

“Dié liedjie is gebore nadat ek by ’n begrafnis van ’n seuntjie wat verdrink het, gesing het. Met hierdie liedjie moet almal daaraan herinner word dat hulle moet weet waarheen hulle eendag op pad is,” het Riana vertel.

Klik hier om die video te kyk.

Aanhangers kon die musiekvideo vir Hou Die Hemel Oop vir nét een uur op 27 Junie op YouTube geniet het – en in daardie uur het die video bykans 10 000 kyke geniet. Die video sal binnekort weer gekyk kan word. Intussen is ’n lusmaker op sosiale media gedeel wat aanhangers kan geniet.

Klik hier om die video te kyk.

Riana het twee jaar lank aan Sterker gewerk en met tagtig liedjies wat sy geskryf het, is twaalf noukeurig gekies om op dié album ingesluit te word. In ’n tydperk wanneer die lewe vol uitdagings is, bied Riana se liedjies op dié nuwe album hoop en ’n boodskap van liefde. Haar vorige album het vyf nommer een radiotreffers opgelewer en hierdie album beloof om net soveel treffers die luggolwe te laat sien.

Waar kom die titel van die album vandaan? “Ek moes sterker word vir die uitdagings wat die lewe my bied en moes ook met tye diep in myself gaan rondkrap het vir die vertroue in dit wat ek doen,” het sy vertel. 

Met hierdie album wys sy haar groei – nie net as as kunstenaar nie – maar ook as individu deur lewenservarings waarmee almal kan identifiseer.

’n Verrassing op dié album is die duet met Francois van Coke, Alles is Niks. “Ons het gedurende die tyd op The Voice baie goeie vriende geword en kon diep dinge met mekaar deel. Vir altwee van ons is ons familie – ons lewens – baie belangrik en dis hoe dié liedjie ontstaan het,” het sy vertel. Riana is ook die enigste vroulike kunstenaar op Francois se gewilde Francois en Vriende konserte.

’n Duet saam met Ruhan du Toit, van die gewilde groep Touch of Class, herinner haar aan haar landwortels. Dié liedjie is in samewerking met die Nashville-liedjieskrywer, Brandon Chase, geskryf. ’n Musiekvideo vir die snit is ook gedeeltelik by Innibos 2019 verfilm voor ’n gehoor van meer as 20 000 mense.

Hierdie langverwagte album is nou beskikbaar by alle musiekwinkels en die eerste 5000 kopieë wat by Musica-winkels op die rak is, het ook haar DVD, Alles En Meer, ingesluit.  

Sterker is ’n móét vir elkeen se versameling om selfondersoek te doen en ook, soos Riana, sterker te word.