Connect with:
Tuesday / June 25.
HomeLeefstylSien uit na die beste Clanwilliam Veldblomskou nóg

Sien uit na die beste Clanwilliam Veldblomskou nóg

Vanjaar se Clanwilliam Veldblomskou op hierdie prentjiemooi dorp in die Olifantsriviervallei beloof om ’n buitengewone ervaring vir jonk en oud te wees. Die Clanwilliam Blomkerk word omskep in ’n unieke landskapuitstalling met honderde verskillende blom- en plantspesies vanuit die omgewing. Die skou vind plaas van Vrydag, 23 Augustus tot Sondag, 1 September.

Die tema van vanjaar se Clanwilliam Veldblomskou is Harmonie. Harmonie tussen verskillende groepe mense, harmonie tussen die natuur en mense, harmonie tussen die ontwikkelende landboubedryf en die natuur – daar is verskeie onder-afdelings van die tema.

“Ons wil werk met die balans tussen mense en natuur,” sê Ilse Saaiman, voorsitter van die skou. “Clanwilliam nooi alle veldblomliefhebbers uit om die Blomkerk tussen Vrydag, 23 Augustus tot Sondag, 1 September te besoek. Jy sal nie teleurgesteld wees nie.”

Verlede jaar se skou is gekanselleer weens die erge droogte wat die streek geteister het en wat baie mense in die area geraak het. Gelukkig het die omgewing onlangs goeie reën gehad en die inwoners van die area is uiters optimisties oor die komende blomseisoen. Die komitee verwag die mooiste veldblomskou nóg.

Dit is amper onmoontlik om al die verskeidenheid veldblomspesies wat in die Cederberg-streek voorkom op een slag te sien. Die hoofdoel van die skou is om seker te maak dat besoekers amper al die veldblomspesies van die streek in een vertrek kan sien. Die skou gee ook aan almal die geleentheid om die skaars en bedreigde plantspesies van die area, wat nie dikwels in die veld te sien is nie, te aanskou. Die skou beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om hierdie spesies vir die toekoms te beskerm.

Vrywilligers werk hard daaraan om die mooiste uitstalling van inheemse veldblomme aan te bied. Hulle het spesiale permitte wat hulle toelaat om blomme en plante in die area te pluk.

“Ons het reeds begin met voorbereidings vir die uitstalling van plante en blomme in die buite-tuin hier by die Blomkerk. Ons verseker dat elke besoeker aan die skou die mooiste en kleurvolle inheemse veldblomme sal sien. Ons is ’n vrywilligersorganisasie en werk hard om die beste veldblomskou ooit aan te bied,” sê Alida Stone, lid van die skoukomitee.

Bly op hoogte met die nuutste Clanwilliam Veldblomskou nuus op Facebook (ClanwilliamWildflowerFestival), Twitter (Wildflowershow) en Instagram (clanwilliamflowershow). Besoek ook hulle webtuiste by www.clanwilliamwildflowershow.co.za om meer te lees oor die geleentheid.