Connect with:
Friday / November 22.
HomeKolligSmeulende model JJ Taljaard ‘toevallig’ ontdek

Smeulende model JJ Taljaard ‘toevallig’ ontdek

Dit klink amper soos ’n storie wat ’n bekende akteur vertel – JJ Taljaard se loopbaan in modelwerk het per toeval begin. Hy is al drie jaar in die bedryf en geniet elke oomblik daarvan. Ydah Bester van www.sterre.co.za het hom ’n paar vrae gevra.

Waar het jy jou liefde vir modelwerk ontdek?

“Ek dink modelwerk het my gevind! My suster is deur ’n agent raakgesien en ek het toevallig saam na die agentskap gegaan. Daar het hulle my gevra of ek belang stel en dit was die onbeplande begin.”

Hoe lank doen jy al modelwerk? Sal jy dit as ’n voltydse beroep oorweeg of het jy ander planne vir jou toekoms?             

“Ek doen al vir die afgelope drie jaar modelwerk. Ek geniet dit regtig baie en op die oomblik sal ek dit graag voltyds wil doen, maar dit is ’n baie mededingende bedryf en nie almal is bevoorreg genoeg om suksesvol te wees en te bly nie.  

“Aan die ander kant is ek ook glad nie die tipe persoon wat staties kan bly nie. Ek glo mens moet aanhou groei en ontwikkel om jou volle potensiaal te bereik. Ek hou van uitdagings en sien alles as ’n nuwe avontuur. Daarom sal ek graag verder wil studeer in dramatiese kunste en dan eendag in die filmbedryf werk. My ander groot liefde is swem en ek sal graag eendag my land by die Olimpiese Spele wil verteenwoordig.”

Wie of wat is jou grootste inspirasie?

“Ek dink dit is onrealisties om op te kyk na iemand wat reeds sukses bereik het. Dus is             my grootste inspirasie nie ’n spesifieke individu nie, maar eerder die dryfkrag om beter te wees. My grootste vrees is om eendag aan die einde van my lewe te kom en dan spyt te wees oor dinge wat ek nooit gedoen het nie of nooit bereik het nie.”

Wat is die moeilikste ding van modelwerk wat mense nie weet nie?

“Wel, ek weet nie of mense dit weet nie, maar vir my is die moeilikste ding om fisies en geestelik gesond te bly en op enige gegewe tyd gereed wees om te werk. Dit alles, saam met die druk van jou normale lewe soos skool en mededingende sport en om iewers ’n sosiale lewe ook in te pas!”