Connect with:
Tuesday / November 19.
HomeLeefstylSophia Kapp het ’n kop vol stories

Sophia Kapp het ’n kop vol stories

Sophia Kapp dra baie hoede as skrywer, taaladviseur en ambassadeur vir Afrikaans.com. Met haar passie vir die taal en boeke as haar beste speelmaat, kan ons nie wag om te sien wat sy volgende gaan doen nie.

Sophia Kapp, skrywer van boeke soos Die erflating, Huis van die wind, Driehoek en Oorlewingsgids vir ʼn bedonnerde diva, dra vele hoede, maar sy is gemaklik in elkeen van haar rolle. Sophia se pad het vroeg reeds met boeke gekruis. As enigste kind was ’n boek altyd haar heel beste speelmaat en sy het nooit weer ophou lees nie.

Op die vraag waarom sy eers op die ouderdom van 40 self begin skryf het, sê Sophia bloot dis toe wat sy eers die lewe se oppe en affe beter verstaan het. Sophia, wat nie huiwer om ’n ding op sy naam te noem nie, vertel dat haar werk in die taalkantoor van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ongelooflik sieldodend was.

Sy het besef dat sy iets kreatief sou moes doen om te keer dat sy heeltemal stagneer. Terselfdertyd het die nuwe milieu waarin sy haar meteens bevind het, die stories in haar kop losgewoel. Een Desembervakansie het sy by haar ouers in Durban gaan kuier. Met ’n romanse van Lapa het sy op die strand gaan lê, dit gelees en besluit sy kan ook sulke stories vertel. Wat sy van plan was om as ’n romanse te publiseer, het egter nie heeltemal binne hierdie genre geval nie, en daar het sy vir die eerste keer kennis gemaak met die moeilikste deel van skryfwerk: die herskryf van ’n manuskrip.

Sy moes toe 15 000 woorde by hierdie storie voeg. Uiteindelik is haar boek, Die erflating, as ’n liefdesverhaal aanvaar vir publikasie en sommer met hierdie heel eerste boek het sy die ATKV se Woordveertjieprys vir ’n Liefdesroman gewen. Dit was die eerste van vele pryse.


Sophia is nie net ’n skrywer van liefdesverhale nie. Sy is ’n voltydse taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. VivA verskaf praktiese hulpmiddels en gebruiksmiddele aan mense om hulle te help om Afrikaans korrek te gebruik. Deur die loop van die dag kry sy soms taalnavrae waarop sy self nie onmiddellik ’n antwoord kan verskaf nie, en dan maak sy gou van die kennis van ’n netwerk taalghoeroes gebruik om haar hiermee te help. Saans en oor naweke skuif sy egter agter haar rekenaar in om die lief en leed van haar hoofkarakters op papier vas te vang.

Sophia, wat nou in Centurion bly, is ook in 2016 aangewys as een van Afrikaans.com se ambassadeurs. Hierdie mediaveldtog, wat in Mei 2016 afgeskop het, poog om Afrikaans op talle vlakke te bevorder en bied ’n allesomvattende webtuiste. Wat Sophia veral opgewonde maak oor hierdie veldtog is dat dit juis wys hoe wyd Afrikaans se reikwydte strek.
“Afrikaans is nie vir my net iets waaroor ek ’n passie het nie. Dis my brood en botter en as Afrikaans nie meer bestaan nie, gaan ek nie eet nie.
Ek is daarom altyd opgewonde oor enigiets wat iemand doen vir Afrikaans, veral indien dit op ’n vriendelike manier geskied. Afrikaans.com is ’n beweging wat baie duidelik verstaan hoe kompleks Afrikaans is, maar dat daar ’n plek is vir elkeen in die taal. Dis nie ’n plek wat verdien moet word nie, dis ’n reeds gevestigde plek en daarom is dit so nodig dat die verskillende gebruikers van Afrikaans van mekaar weet,” sê sy.


Sophia grinnik oor die vraag wat daar vorentoe vir haar wag. Sy vertel dan van ’n onderhoud wat sy eenmaal gesien het. ’n BBC-verslaggewer het op televisie ’n onderhoud gevoer met Barbara Cartland, wat op ’n tyd die koningin van romanse was. Sy was toe reeds in haar negentigs. Die joernalis wou by haar weet wanneer sy eendag gaan ophou skryf. Barbara het die voortvarende joernalis minagtend geantwoord: “When I die, and I don’t know when that will be. You will have to ask God.”


“Dis so ’n bietjie hoe ek voel,” lag Sophia dan.“Ek hoop ek het nog baie jare voor waarin ek die werk kan doen wat ek nou doen, maar as dinge môreoggend verander, dan is dit ook oukei.”
Wie weet, dalk haal Sophia Kapp ook eendag die 99 jaar merk soos tante Barbara. Solank sy net aanhou skryf!