Connect with:
Saturday / September 21.
HomeMusiekSuzzi Swanepoel stel splinternuwe enkelsnit, Als Vir Niks, vry

Suzzi Swanepoel stel splinternuwe enkelsnit, Als Vir Niks, vry

Als Vir Niks is Suzzi se jongste enkelsnit en dié keer meng haar fluweelstem met ’n dansritme wat die voete laat jeuk.  

“Ek weet nie presies hoe om die klank of genre te beskryf nie, miskien iets soos lounge rock?.” het Suzzi vertel.

“Ek wou iets in Afrikaans bied wat soomloos in Engelse musiek kan invloei. In die ateljee het ek en Sloani (vervaardiger) die heeltyd  geskaaf en geskuur om die klank te kry soos wat ons dit wou hê. Daarna was dit maklik om die lirieke by te voeg en saam presies te sê wat ek wil sê,” het sy verduidelik.

Als vir niks resoneer vir haar vanuit ’n gevoel, “soos ek ouer word, verloor ek soms moed, mens voel jy is agter in die wedloop en daar is altyd iemand jonger en beter om die draai. Soms voel ek die lewe, die probeer, die aanhou, is alles ’n gejaag na wind – die gejaag na geld, faam en waardering – ook als vir niks.”

“Deur die loop van die jare het ek besef ’n mens kan net gelukkig wees as jy altyd eerlik met jouself is. Dit help nie om saam met die stroom te probeer swem nie, jy moet jou eie pad volg, jou eie ‘gut’ vertrou en die musiek maak wat uit jou wese uit kom.

Elke mens ervaar die lewe en verhoudings op hul eie manier, voel dit, proe dit, hoor dit anders, en dit is goed so.  Sosiale druk en angs eet aan almal van ons, ons twyfel en verloor êrens in die gedrang ons eie stemme. Dis dan wanneer jy moet gaan soek na die ware jy en weer onthou hoekom jy sing.”

Die ironie is dat die maak van hierdie enkelsnit beslis nie “als vir niks” was nie. Dit was ’n terugkeer na myself deur die gevoel en klank van die snit”

Luister Als Vir Niks hier:

Apple Music: https://apple.co/2LEiNlq

Deezer: https://bit.ly/2PZB5wi

Spotify: https://spoti.fi/2DXYQA4