Connect with:
Sunday / December 8.
HomeMusiekTheuns Visagie: Die energieke jong sing en skryf talent

Theuns Visagie: Die energieke jong sing en skryf talent

Die energieke jong talent, Theuns Visagie, skryf en sing sy eie liedjies meer bekend onder die naam “Perfect Tz”. Theuns se sing en skryf gogga het al vroeg gebyt, maar hy het in graad 10 eers aan sy eie liedjies begin skryf. Hy het op Alberton naby Johannesburg grootgeword en woon al vir die afgelope drie jaar in Cullinan.

Met verskeie liedjies uit sy eie pen, het hy al ’n smakie van hoe die kunstenaarslewe proe. Hy is een van Suid-Afrika se jong talente en opkomende kunstenaars. Kyk gerus uit vir sy nuwe enkelsnit – Liefde is glo – wat vandeesmaand uitkom. Gaan sien vir Theuns in aksie op Vrydag, 5 Julie by die Vlakvark Fees in Cullinan. 

GJ van Schalkwyk van www.sterre.co.za het met Theuns gesels.

Waar kry jy jou inspirasie vir jou liedjies vandaan?

My inspirasie kom in verskeie vorms na my toe – partykeer skryf ek oor persoonlike ervarings, ander kere oor goeie tye saam met my mense en soms kry ek dit van ander kunstenaars. Liedjies is nie iets waaroor jy moet dink nie. Dit moet na jou toe kom en dit moet ’n gevoel wees waaroor jy skryf.  

Verkies jy om jou liedjies self te sing?

Ek verkies dit om my eie liedjies te sing, want die liedjies wat ek skryf gaan gewoonlik  oor hoe ek voel. Maar as die liedjies wat ek skryf beter by iemand anders pas, verkies ek dat hulle dit sing. Om my eie liedjies te sing beteken vir my baie aangesien ek die gevoel van die liedjie kan oordra – ek weet met watter gevoel die liedjie geskryf is.

Wanneer het jy jou liefde vir liedjieskryf en sing ontwikkel en sal jy sê dat jou werk as klank-ingenieur jou hiermee help?

Ek het op hoërskool toe ek 16 was begin liedjies skryf. Ek het by verskeie huispartytjies begin DJ en daarna het ek ná skool liedjies begin opneem en skryf terwyl ek by die Academy of Sound Engineering studeer het. Om ’n klank-ingenieur te wees help my baie. Ek kan ’n liedjie meer professioneel produseer en ook spaar op kostes aangesien ek alles self kan doen. 

Wie in die musiekbedryf inspireer jou die meeste en het jy enige raad vir ander jong kunstenaars?

Die persoon wat my die meeste inspireer is Taylor Swift. Ek dink sy is ’n fantastiese liedjieskrywer en kunstenaar. Ek luister gewoonlik na die Billboard Hot 100 en Top 40 – dít is die mense wat my inspireer om my eie goeie musiek te maak. 

My raad vir jong kunstenaars is om net jouself te wees en jou eie ding te doen. Moenie probeer om musiek te maak soos iemand anders nie. Jy is uniek en dit is wat mense van jou sal onthou in die toekoms. Laastens, glo in jouself. Die musiekbedryf is taai en dit mag dalk ’n rukkie neem om êrens te kom, maar aanhou en uithou sal jou bo uitbring.