Connect with:
Sunday / December 8.
HomeLeefstylToorkombuis se Bobotiefrikkadelle

Toorkombuis se Bobotiefrikkadelle

Die bekende kosskrywer Karen Hart, deel op haar kosblog, www.toorkombuis.co.za, haar bobotie-resep.  Dis so lekker jy kan dit nie misloop nie. Lees onder:3

Ek is baie lief vir bobotie. My mense ook. Maar ek het ‘n bietjie moeg geword om dit elke keer op dieselfde manier voor te sit. En met die kookkompetisie op hande, was dit tyd vir ‘n splinternuwe aanslag op ‘n ou treffer.

Genoeg vir 4.
Jy het nodig

Vir die rys

    • 2 eetlepels botter
    • 1 teelepel borrie
    • 3 eetlepels bruinsuiker
    •  3 koppies kookwater
    • 1 teelepel sout
    • 1 kaneelstokkie
    • Vir die frikkadelle

    • 1 dik sny ou growwebrood
    • 1 ui, gerasper
    • 1 groen brandrissie, fyngekap
    • 300 g beesmaalvleis
    • 1 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
    • 1½ teelepel matige kerriepoeier
    • 1 teelepel borrie
    • 1 teelepel fyn komyn
    • 2 teelepels fyn koljander
    • ½ teelepel fyn naeltjies
    • ½ teelepel varsgemaalde swartpeperkorrels
    • 3 fyngemaalde wonderpeperkorrels
    • 2 eetlepels amandelvlokkies
    • 1 teelepel droë gemengde kruie
    • 1 eetlepel blatjang
    • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
      olie vir braai
    • Vir die samestelling

    • 1 eetlepel botter
    • 2 geklitste eiers
    • 2 eetlepels melk
    • sou en peper na smaak
    • gekapte vars koljanderblare
    • 2 eetlepels geroosterde gevlokte amandels
    • 1 koppie rys

    Só maak mens

    Vir die rys: Smelt die botter in ’n kastrol en braai de rys vir ’n minuut of 2 daarin. Voeg die suiker, borrie, kaneelstokkie en sout by en meng goed. Voeg die kookwater by en bring tot kookpunt. Laat 10 minute lank vinnig kook en verlaag dan die hitte om stadig te kook tot gaar en al die vloeistowwe verdamp het.

    Vir die frikkadelle
    Meng al die bestanddele saam in ’n groot bak. Gebruik jou hande om alles mooi deur te werk en vorm frikkadelle so groot soos tafeltennisballetjies. Verhit die olie in ’n pan en braai die frikkadelle daarin tot gaar.

    Vir die samestelling
    Verhit de botter in ’n pan oor matige hitte.

    Klits die eiers en melk saam en geur met sout en peper na smaak. Giet di eiermengsel in die pan. Laat die eier toe om heeltemal aan die onderkant te stol voordat jy dit versigtig omkeer om ook aan die ander kant gaar te word. Roer die varsgekapte koljanderblare deur die geelrys. Skep die frikkdelle bo-op.

    Sny die eier in dun repies en rangskik tussenin. Besprinkel met die gevlokte amandels bo-oor.