Connect with:
Saturday / September 21.
HomeFeesteTop kunstenaars by Madeliefie Makietie laat kaartjies vlieg

Top kunstenaars by Madeliefie Makietie laat kaartjies vlieg

Met van die land se grootste kunstenaars wat op Vrydag, 25 en Saterdag, 26 Oktober in die strate van Strandfontein gaan wemel as hulle by die Madeliefie Makietie in aksie is, verkoop kaartjies vinnig uit en sal getroue feesgangers moet wikkel om hul kaartjies te kry. 

“Ek sien baie uit om vanjaar by dié fees op te tree en kan nie wag om seker te maak dat feesgangers ’n lekker tyd het nie”, het die bekroonde kletsrymer, Early B, gesê.

Vir Bok van Blerk, wat ook pas sy nuwe album, Hoor Ons!, vrygestel het, is dié fees ’n hoogtepunt.

“Ek sien baie uit na die Madeliefie Makietie en feesgangers kan uitsien om van my ou én nuwe treffers te hoor, het Bok vertel. 

Die Madeliefie Makietie is een van die hoogtepunte op die jaar se vermaaklikheidskalender en vanjaar kan besoekers ook uitsien na die Color Run en die Maltrap-bergfietswedren wat op die Saterdag sal plaasvind. 

Volgens Theresa van Zyl, feesbestuurder, is dit ’n ware gesinsfees met aktiwiteite wat almal sal besig hou. 

“Voor die fees bied ons ook die Kollig-talentkompetisie aan. Dan is daar natuurlik die Mej. Madeliefie-kompetisie, met die gala-aand op Vrydag, 4 Oktober, wat deur die Kaapse modelagentskap, Topco, ondersteun word, ” het sy opgewonde vertel. 

“By die fees self is ’n pretpark met meer ritte as ooit tevore en ’n  verskeidenheid stalletjies,” het sy gesê. 

Die finaal van die talentkompetisie, Kollig, sal op die Saterdag om 12:20 by die Perdeskoen-amfiteater plaasvind waarna die wenner van dié kompetisie om 16:20 in aksie sal wees. 

Saam met Early B en Van Blerk kan feesgangers ook uitsien na Caroline Grace, Jay, Ricus Nel, Ivan Roux, Tarryn Lamb, Dennis East, Chereè, Appel, Tommy Dell, Sunset Sweatshop, Dobbelsteun, Wynand en Chereè, Jan Bloukaas, Rinus Goosen, Dawid Sadie, Jaco Losgelaat, Johan Myburgh en KayCee. 

Vir die volle program en meer inligting oor al die aktiwiteite besoek www.madeliefiemakietie.co.za

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook (facebook.com/MadeliefieMakietieSA), Twitter (twitter.com/madeliefieM) en Instagram (instagram.com/madeliefiemakietie/). 

Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers-, House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000.

 

Uitgereik deur Lightspeed Digital Media