Connect with:
Wednesday / October 16.
HomeAgri-nuusUV en SU onoorwonne in Old Mutual Landboustudent van die Jaar-kompetisie

UV en SU onoorwonne in Old Mutual Landboustudent van die Jaar-kompetisie

Van links na regs is Riana Grobler, bemarkingsbestuurder by Old Mutual, Pieter Theron van Stellenbosch Universiteit, Michelle Marais en Wian Visser, beide van die Universiteit van die Vrystaat, en Albert Loubser van Plaas Media.

Die Universiteit van die Vrystaat en Stellenbosch Universiteit bly onoorwonne in die Old Mutual Landboustudent van die Jaar-kompetisie.

Dié kompetisie bied aan landboustudente regoor die land die geleentheid om in hul spesifieke vakgebied deel te neem. Die drie vakgebiede wat gedek word is landbou-ekonomie, veekunde en gewasbou. Bedryfsleiers in elk van hierdie velde word genooi om as bedryfsvennote en beoordelaars op te tree tydens die kompetisie. Die drie vennote is Agbiz, Graan SA en die Rooivleisprodusente-organisasie. Old Mutual is sedert 2018 as naamborg betrokke by die kompetisie wat deur Plaas Media aangebied word en is aktief betrokke by die uitbou en bevordering van die kompetisie.

Vyf universiteite het aan vanjaar se kompetisie deelgeneem: Die Universiteit van die Vrystaat, Stellenbosch Universiteit, die Universiteit van Fort Hare, Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Pretoria. Altesaam elf finaliste het deurgedring na die finale rondte wat tydens ALFA by die Afridome in Parys gehou is. Die finale evaluering en ‘n spesiale dinee het op 18 September by die ekspo plaasgevind.

En die wenners is …

Die uiteindelike wenner in vanjaar se veekunde-afdeling was Pieter Theron van Stellenbosch Universiteit. Twee studente van die Universiteit van die Vrystaat, Michelle Marais en Wian Visser, het onderskeidelik in die landbou-ekonomie- en gewasbou-afdelings gewen.

Hierdie universiteite het ook in 2018 skoonskip gemaak toe Darren Maree van Stellenbosch Universiteit die gewasbou afdeling gewen het, en twee studente van die Universiteit van die Vrystaat, Mario van den Heever en Chéri-Lynn Steyn, onderskeidelik in die veekunde en landbou-ekonomie afdelings koning gekraai het.

Die beoordelaars, dr John Purchase van Agbiz, dr Dirk Strydom van Graan SA en Gerhard Schutte van die RPO. Dr Heinz Meissner het hulp verleen met die beoordeling van die studente se opstelle. Hulle was baie beïndruk met die studente se deelname en tevrede met die uiteindelike wenners.

Al elf finaliste het R1 000 prysgeld en ‘n Old Mutual-groenbaadjie ontvang. Die drie nasionale wenners het ook ‘n Old Mutual-aandeleportefeulje ter waarde van R5 000 ontvang asook blootstelling op Grootplaas en RSG Landbou en in Plaas Media se tydskrifte Veeplaas, Stockfarm en FarmBiz.

Hou die pers dop vir inligting oor die 2020-kompetisie wat eersdaags afgekondig sal word.