Connect with:
Tuesday / June 25.
HomeArtikelsVan oor verfblikke spring op 5, tot SA kampioen op 18

Van oor verfblikke spring op 5, tot SA kampioen op 18

“Toe ek vyf jaar oud was het my Pa twee verfblikke gevat en ’n besem daaroor laat lê om ’n tuisgemaakte hekkie te maak,” só het alles begin, vertel die 18-jarige Michael Schoeman, Suid-Afrika hekkieskampioen in die 110m.

Rozaria Klaase van www.sterre.co.za het met hom gesels en op baie interessanthede afgekom.

Waar en wanneer het jy jou passie en liefde vir atletiek ontdek?

“Toe ek vyf was het my Pa gesê ek moet oor sy tuisgemaakte hekkie spring. Ek kan onthou ek was nogal bang om die eerste keer te spring, maar volgens my Pa het ek met ’n perfekte hekkietegniek daaroor gespring.

“Van daardie dag af was ek lief om hekkies te hardloop. Met my Pa as my afrigter het ek van klein tyd af hard geoefen om my tegniek te verbeter en so na as moontlik aan perfek te kry. Atletiek is ’n sport wat my laat ontspan en laat vergeet van die negatiewe goed daar buite in die wêreld. Ek is lief vir atletiek want dit bied my ’n geleentheid om hard te werk vir alles wat ek wil bereik en dit skep ook ’n geleentheid om die talent wat God vir my gegee het, vir ander mense te wys. Ek is elke dag dankbaar vir die talente wat Hy vir my gegee het.”

Wie is die persoon wat jou die meeste inspireer om beter te doen?

“My Pa inspireer my die meeste. Hy self was ’n baie goeie hekkiesatleet op sy tyd. Hy is elke dag saam met my op die baan om my gemotiveerd te hou en ook my aan te spoor om my beste te lewer. My Pa ken my beter as enigiemand. Hy weet presies wat om te doen om my te herinner hoekom ek atletiek doen en wat ek moet doen om sukses te behaal.

“Hy is ’n ware rolmodel en ek kyk op na hom. Ek vertrou hom baie, want ek weet hy sal my nie in die steek laat nie.”

Hoe lyk jou normale week?

Ek oefen 4 tot 5 dae ’n week. Nie elke oefensessie is ’n harde een nie, want mens het ook herstelsessies nodig. Ek oefen in die laat middae, want dit gee mens dan geleentheid om jou skoolwerk klaar te maak. Ek gaan vin die week skool toe van 07:30 tot 14:00, dan gaan ek huis toe waar ek my huiswerk voor 16:00 – wanneer ek begin oefen – probeer klaarkry.

Woensdag en Saterdag is my rusdae, wanneer ek tyd kry om met my vriende te kuier en skoolwerk klaar te maak. Vir my is Sondae die lekkerste dag om te oefen, want dan kan ek die week goed afsluit.

Wat doen jy om jou senuwees te kalmeer terwyl jy meeding?

Voor ek opwarm, luister ek na rustige musiek en ek warm ook nie vir langer as 40 minute op nie. Die rustige musiek laat my kalmeer voor my wedloop. Tydens my opwarming fokus ek net op die wedloop en wat belangrik is. Die mense wat my goed ken, sal weet dat ek net voor ek in die blokke sak, kliphard skree om van al my senuwees ontslae te raak.

Voordat ek afsak in my blokke sê ek ’n klein gebedjie op waar ek die Here dank vir die gawes en talente wat hy vir my gegee het. En soos ek in die blokke afsak, haal ek diep asem voor die skoot klap, en dan pomp die adrenalien.

Bly op hoogte van hierdie talentvolle atleet en volg hom op sosiale media by @michael_schoeman.