Connect with:
Monday / October 21.
HomeArtikelsVeelsydige Zijn leef voluit met passie

Veelsydige Zijn leef voluit met passie

Die 23-jarige Zijn-Rudolph van Zyl het reeds in die vermaaklikheidswêreld bekendheid verwerf as sanger, akteur én model. Boonop is hy ook ’n passievolle entrepeneur met sy eie klerereeks, HERBORE.

Vicki Rothman Sterre het met hom gaan gesels en ’n paar vrae gevra.

Waarmee is jy tans besig?  

Op die oomblik werk ek aan die volgende reeks vir my klerereeks, HERBORE. Dit is juis nou in produksie en ek is baie opgewonde! Ek het besluit om vir die winter van 2019 op jasse te fokus. Ek is gek oor ’n mooi jas. Ek glo ook dat ’n jas tydloos moet wees en dat daar altyd so ’n staatmaker in jou klerekas moet wees.

Verder is ek ook hard besig om te werk aan my album. Musiek was nog altyd ’n groot deel van my lewe en daarom het ek uiteindelik besluit om aan ’n album te werk.

Mense kan dus solank uitsien na mooi klere en mooi musiek – vol kuns, vol passie en vol hart!

As model, wat is die daaglikse struikelblokke wat oor jou pad kom? En hoe hanteer jy dit?

Daar is daagliks struikelblokke wat oor my pad kom. Ek moet eerstens ’n goeie verstandhouding van my liggaam hê – innerlik en uiterlik. Ek moet seker maak ek is gesond, dat my gees en kop op ’n positiewe plek is en dat ek my liggaam fiks hou.

Fiksheid het vir my ’n belangrike aspek in die lewe geword en ek dink dit het gebeur as gevolg van my dans-agtergrond. Ek moet goed lyk én goed voel! Ek probeer my bes om elke dag aktief te bly – ek gaan gimnasium toe, gaan stap en natuurlik dans. Ek doen ook baie choreografie vir produksies en dit is ’n bonus.

Ek geniet dit ook om te mediteer – al is dit vir net vyf minute. Ek wil my oë kan toemaak en vir daardie oomblik net kan asemhaal.

Ek gaan ook soms deur ’n struikelblok van angs omdat daar altyd van ’n mens verwag word om “perfek” te wees. Ek geniet eindelik die feit dat ek glad nie perfek is nie en dis lekker om dit te erken en om eienaarskap van dit te neem.

Om die angs te oorkom, help dit om my liggaam en brein aktief te hou. Ek is baie lief vir kos (om dit te eet én te maak). Omdat gesond eet juis so belangrik is, het ek ’n passie daarvoor gevind om my liggaam op ’n gesonde wyse te voed.

My ma het my geleer dat ’n mens ’n mooi vel moet hê en daarom is ek baie erg oor my vel. Velsorg (en self-sorg in geheel) vir my soos ’n stokperdjie geword. Ek geniet velprodukte en twee produkte wat my lewe al gered is Skin Republic for Men Anti-Fatigue Charcoal Under Eye Patch en asook Nivea Men Active Age Moisturiser.

As jy die wêreld kon verander wat sou jy doen?

As ek vandag die kans sou kry om die wêreld te verander sal ek wil hê mense moet meer daarop fokus om vir hulself lief te wees. Doen moeite met jouself – of laat dit dan net lyk of jy moeite gedoen het. Jy hoef nie baie geld te hê om te wys jy is lief en trots op jouself nie – dis juis waar mense die foute maak.

Kam ten minste jou hare, sit bietjie lipstiffie op, dra oulike kouse of ’n hemp met ’n patroon op, steek jou hemp in en rol jou mou so een of twee keer op. Dít alles wys dat jy voor die spieël gestaan het en ’n oomblik inisiatief geneem het. Ek vind dit aantreklik in enige mens. Al gaan jy net vinnig winkel toe of ontmoet iemand vir ’n glas wyn, is dit belangrik om te wys dat jy moeite gedoen het.

Ek kan jou belowe, baie mense gaan soos jy wil wees.

Wanneer het jou klerereeks HERBORE ontstaan en waar is dit beskikbaar?

HERBORE het ek in 2017 gestig en daar kan uitgesien word na die nuwe reeks wat binnekort, betyds vir die winter, beskikbaar sal wees.

Volg HERBORE Instagram (@herbore_) om vir die bekendstelling . Jy kan dit ook daar bestel en elke item word spesiaal vir elke kliënt gemaak.

Hoe word ’n mens deel van ’n musiekvideo?

As ek ’n wenk sal moet gee sal dit wees dat elke persoon hul talent as danser of akteur met passie moet uitleef. “Own every second of it.” Dit is ook belangrik om te netwerk – daar is altyd iemand wat jou gaan raak sien jy moet net seker maak daarvan.