Connect with:
Saturday / September 21.
HomeKolligVorster van Zyl vang oomblikke al van kindsbeen af vas

Vorster van Zyl vang oomblikke al van kindsbeen af vas

Dit het alles begin met ’n advertensie waar iemand toertjies doen met ’n fiets op televisie. Sy belangstelling was geprikkel en hy wou dit graag op film vasvang. Vandag spog Vorster van Zyl, bekende jong foto- en videograaf, met meer as 20 000 Instagram-aanhangers. 

Hy gesels met Jeanne-Mari van Eeden van Sterre oor sy liefde vir reis, fotografie, film en waar dit alles begin het.

Vertel my meer van jouself en waar dit alles begin het?

“Ek het grootgeword op ’n plaas by die klein dorpie Vredendal, waar ek van kleins af net wou boer. Ek was heeldag buite, besig om goed soos paaie te bou waar my trekkers kan ry en het ook probeer plantjies plant. Na dit het ek een keer op ’n TV-advertensie gesien hoe iemand BMX ry en truuks doen wat ek nooit geweet het moontlik is nie. Ek het toe my ouers gevra ek soek ’n BMX en het dag en nag gery na my pa vir my ’n baan op die plaas gebou het. Kort ná dit het my beste pel, Gideon, ’n skateboard gekry en begin ry, so ek wou dit ook probeer.”

“Ek koop toe vir my ook ’n skateboard en het nooit teruggekyk nie – dit was my hele lewe en ek het alles rondom dit geleer en bestudeer. Gideon was altyd beter as ek en tot vandag is daar sekere goed wat hy beter as ek kan doen, maar dit het my motiveer om harder te oefen. 

“Kort ná ek begin het, het ek nog skateboarders ontmoet wat my video’s gewys het van die truuks wat die ouer ouens op Vredendal al gedoen het. Ek was verstom deur die dinge wat moontlik is by die plaaslike plekke waar ek en my vriende ry en het besef ek moet ’n kamera kry om dit af te neem. 

“My ouers het eers vir my ’n ou mik-en-druk kamera gegee wat ek in my sak kon hou as ons deur die strate ry. Ek het vir jare met daai kamera aangegaan en hy was vir my tien keer meer werd as wat sy geldwaarde was.”

Wanneer het jy jou passie vir film en fotografie ontdek?

“In graad 8 het ek my eerste regte kamera gekry en het hom so baie gebruik dat sy knoppies en hele body al glad was toe ek hom ná matriek verkoop het. Ek het toe besef dat om ’n foto te neem wat ’n oomblik kan beskryf, net so lekker is soos al ons skateboarding-video’s wat ek al die jare gemaak het.

“Ek het my kamera amper pal by my begin gedra en allerhande goed begin afneem. Dit was lekker om iets te hê wat jou kan laat terugdink aan al die avonture waarop ons gaan.”

Wat is jou gunsteling plek wat jy al besoek het en hoekom?

“My gunsteling plek waar ek al was is Livigno in Italië. Ons gaan altyd op ski-toere daarheen en dis my gunsteling. Min mense weet dat ek snowboarding bo enige ander ding sal kies wat ek al ooit gedoen het, so as ek klaar studeer het, beplan ek om dalk om vir ’n ruk in Livigno te gaan bly.”

Wat is die avontuurlustigste en mees gewaagde ding wat jy al gedoen het?

“Die grootste risk wat ek al gevat het, is om in die aand die toring op Paarlberg te klim.”

Wat is jou droomplek om heen te reis?

“My droom is om Ysland toe te gaan. Ek wou nog altyd watervalle in die koue en reën uitklim.”

Wat doen jy as jy nie op die pad is nie?

“Ek hou myself besig met projekte waaraan ek werk, of ek ry deur Kampsbaai om die argitektuur te kyk. Ek het ook onlangs begin aandele doen waarvan ek ongelooflik baie hou.”

Waar kry jy al jou idees vir jou foto’s? 

“Gewoonlik werk my foto-idees baie swak uit, so ek probeer net soveel moontlik foto’s neem en hoop vir die beste.. haha…”

Wie is jou inspirasie?

“My grootste inspirasie is Sam Kolder en Matt Komo se video’s.”

As daar een vrees is wat jy graag sou wou oorkom, wat sou dit wees?

“Die vrees wat ek sal wil oorkom, is my hoogtevrees. Ek kan nie oor my hoogtevrees kom nie en sal in my lewe nooit kan skydive of bungee jump nie. Ek wil so graag daardie soort goed doen, maar ek kan nie.”