Connect with:
Wednesday / May 22.
HomeNuusWaldimar Pelser gesels by Clanwilliam Sakekamer

Waldimar Pelser gesels by Clanwilliam Sakekamer

Op Dinsdag, 23 April het die Clanwilliam Sakekamer ’n ledevergadering by Reinholds Restaurant gehou met Waldimar Pelser, Rapport redakteur en aanbieder van die kykNET-program Verslag In Gesprek, as gasspreker.
Die geleentheid het afgeskop met ’n alternatiewe wynproe aangebied deur Pieter du Toit van Cederberg Wyne. Gaste kon ’n bottel wyn blind kies. Die wyne was almal van die groter wynreeks wat deur Cederberg Wyne gemaak word soos Cape Atlantic, Ghost Corner en Maras.
Pieter het genoem dat mense hulself moet blootstel aan ander tipe variëteite om die persepsie dat hulLE net hou van ’n Shiraz of ’n Chenin Blanc uit te daag – daar is ’n verskil tussen ’n styl en ’n variëteit.
Waldimar Pelser het erken dat hy, op pad na Clanwilliam, hom vergaap het aan die mooi landskap van die Cederberge en wens eintlik dat die politieke landskap van Suid-Afrika ook so mooi was.
Oor ’n paar dae, op 8 Mei, sal 7 miljoen mense laat opstaan, hul gras sny, takies om die huis doen en selfs koffie gaan drink met familie wat hul in jare nog nie gesien het nie, net om sodoende die stembusse te vermy. Hierdie is volgens statistieke die moontlike wegbly-stemme. 20 miljoen kiesers sal wel hul stem op die ellelange stembrief van 48 partye uitoefen.
As ondersoekende joernalis is dit vir hom moeilik om ’n objektiewe mening te gee oor vir wie ons moet stem, het Pelser gesê. Hy het voortgegaan om die politieke landskap in te kleur. Nie alles is wit en grys nie.
Volgens Pelser is daar partye wat steun verloor soos ’n ballon wat afblaas na ’n kinderpartytjie. Ander toon weer ’n sterk groei in veral landelike gebiede. Mense moet besef daar is ’n groot verskil tussen stedelike kiesers en diegene wat in die landelike gebiede stem.
Oor die afgelope 5 jaar is daar vreeslik baie korrupsie ontbloot en is dis ook die eerste keer wat mense weer sal stem na verskeie dramas soos ‘Fees Must Fall’, die Eskom-krisis, ‘Gupta leaks’, grondonteiening, die e-tol, die ontsporing van Prasa en vele ander stories waarvan ons weeklikse nuusblaaie vol is.
Dit is ook die eerste verkiesing na boeke soos: The President’s Keepers deur Jacques Pauw en Gangster State deur Pieter-Louis Myburgh wat ’n groot ontbloting van baie inligting te weeg gebring het.
Die SA ekonomie is op ’n laagtepunt en die staatskuld die hoogte in. Daarom, wanneer jy stem, stem vir ’n party wat jou en jou gesin se belange op die hart dra, wat ’n balans in die politiek kan bring. Wat is die struikelblokke vir die partye? Werkloosheid, dienslewering, sosiale dienste, maatskaplike dienste en vele meer.
Wat is die toekoms van politiek in SA? Ons beweeg al hoe nader aan koalisie-politiek, dalk nie nou al op nasionale vlak nie, maar na 2016 was dit baie duidelik in die verskillende provinsies.
“Mense moet besef dat hulle hul steun aan organisasies soos sakekamers en georganiseerde landbou moet gee. Hierdie mense is reeds besig om groot verskille te maak. Omring jou met hierdie organisasies en ontwikkel ’n aptyt om self ’n verskil te maak,” verduidelik Pelser.
Deur die loop van die aand het gaste heerlik saamgekuier oor glasies wyn en die voortreflike kos van Emil en sy span by Reinholds Restaurant. Volgens Sanet Stander van Rooibos Route was dit goed om meer toegelig te word en weer ’n bietjie verder te dink oor hoe jy daardie kruisie op 8 Mei gaan trek.